Woensdag 17 April 2013

Kyk na die voëls!



Deesdae het 'n nuwe guur my gepak om voëls te besigtig, of dan soos beste beskryf word in Engels: “bird watching” of “birding”. Wat 'n wonder dat hierdie soort tyd verdryf dit nooit voorheen op my lys van belange gemaak het nie! Ek kan my verkyk hoê 'n Kwik stertjie haastig skyfies jaag wat op die Wimpy speelplek vloer val of 'n geel Vinkie wat oor en oor bou om daardie perfekte woning vir sy lewens maat aan mekaar te vleg. As daar 'n nuwe soort voëltjie sy verskyning in die tuin maak, hardloop ek haastig na die voël boek toe, ek moet sy naam ken, en wat eet hy en hoe lyk sy kleintjies? Hoe pragtig en perfek het Vader nie elkeen van hierdie klein skepsels gevorm nie!

Anderdag sit ek en gesels met ‘n goeie vriend en sommer baie gou praat ons van die prys van brandstof en vanoggend se voorblad flitse al padlangs. Voordat ons heel ver in die gesprek vorder besef ek dat daar nie een positiewe uitlating by my mondholte uitgekom het nie. Hier binne voel ek skaam en probeer vinnig die gesprek in ‘n ander rigting stuur. Lig en sout... nee dit was meer soos olie en vuur! In hierdie geval het die gesprek tog baie positief uitgedraai en ons het mekaar se geselskap verlaat met ‘n glimlag van binne.

Soms probeer ‘n mens te hard en die reaksie wat jy kry wanneer jy wil gesels oor die minder “belangrike” dinge van die lewe is nie altyd wat jy verwag nie. Is dit nie snaaks hoê gou mense dink dat jy oppervlakkig of oningelig is as jy nie die nuutste brokkies slegte nuus uitmekaar kan trek nie en eerder wil gesels oor die pragtige Hadida wat vanoggend sy groot ogies en snawel in jou tuin kom vertoon het.

Slegte nuus en swaar kry sal daar altyd wees, maar ons kies tog hoe ons elke dag wil beleef.  Verdiep jy jouself in die donker of is jy altyddeur soekend na die ligstraal van elke dag?

Daar word omtrent 300 keer verwys na allerhande voël soorte in die Bybel. Een van die mees bekende gedeeltes is in Mattheus 6:26 waar Jesus se: “ Kyk na die voëls van die hemel, hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?”

Die volgende keer wanneer die negatiewe dinge van hierdie lewe ‘n gesprek oorheers, wees jy die lig en die sout en die een wat vertrou dat jou hemelse Vader in beheer is van elke dag en elke situasie, en praat dadelik van daardie Olyf Lyster wat vanoggend amper uit jou hand uit kom eet het of die mossie wat by jou hond se water bak kom drink asof dit sy huis is. God gee ons elke dag die geleentheid om die wêreld waarin ons leef te verander deur net op Hom te vertrou.